VOORTREKKERS

2019

Die Hoërskoolvoortrekkergroep bestaan vanjaar  uit  vier graad 10-leerders, drie graad 9-leerders  en drie graad 8-leerders.

Ons het die jaar afgeskop met ‘n Kommandobyeenkoms by die Voortrekkersaal met waterspeletjies en ‘n glybaan.

Aangesien die natuur so ‘n belangrike element is van Voortrekker wees, het die groep op die plaas van mnr. Nico de Kock, naby Suurbraak, in die berg gaan stap en in die ongelooflikste bergpoel geswem.

Gedurende die kwartaal is daar gefokus op die Boom-identifiseringkenteken. Ds. Thomas Joubert het die groep deur Koloniebos vergesel en die nodige agtergrond verskaf oor hoe bome geïdentifiseer moet word en die verskillende inheemse bome op die roete aan ons uitgewys.

Die hoogtepunt van die kwartaal was die Kommandokamp op die plaas Sandkraal, van mnr. Chris Coetzer. Die groep het in tente, op die wal van die Breërivier, geslaap. Die Vrydagaand is daar nagmars gehou en die Saterdag het die groep met binnebande vir 6,7km op die rivier gevaar. Dit was ‘n perfekte sonskyndag en ‘n belewenis om die pragtige voël- en dierelewe van die rivier af waar te neem. Die cuppuccino wat ons by Felix Unite geniet het, was net die regte brandstof vir hierdie epiese tog.

Ons besoek aan Bontebokpark, om die Natuurbewaringkenteken te doen, het uitgereën en dit sal in die tweede kwartaal aangepak word. Die groep is deur mnr. Henry van Tonder, die bosbouer van Marloth, genader om hom behulpsaam te wees met die aanplant van geelhoutbome. Dit kon egter nie realiseer nie, weens die groep se betrokkenheid by die toutrek.

Die kwartaal is afgesluit met ‘n pizza-ete by Woodpecker. Op Maandag, 11 Maart, word ‘n laat Valentynsete deur die groep voorberei. Dit bestaan uit ‘n driegang ete wat deur hulself beplan en voorberei word.

Ons het hierdie kwartaal net weer onder die indruk gekom van die pragtige natuurskoon wat Swellendam omring. Binne 10 minute kan jy in die indrukwekkendste kloof staan en voel jy is alleen op die wêreld. Terwyl genoegsame suiwer, skoon water ‘n al hoe groter wordende probleem word in ons land, is Swellendam bevoorreg om van die mooiste en asemrowendste bergpoele binne enige iemand se bereik te hê. Die Breërivier is ‘n lewensaar wat soveel moontlikhede vir ons bied en definitief nooit as vanselfsprekend aanvaar moet word nie!